Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: ANC nie te koop, maar wat van Zuma?

$
0
0
Adj.pres. Cyril Ramaphosa Woensdag tydens sy toespraak in Limpopo. Foto: Siyabulela Duda / GCIS

Adj.pres. Cyril Ramaphosa Woensdag tydens sy toespraak in Limpopo. Foto: Siyabulela Duda / GCIS

Die ANC is nie te koop nie, aldus adj.pres. Cyril Ramaphosa. Maar is dit nie leë woorde nadat die ANC se NUK vir pres. Jacob Zuma ongeskonde behou het ná die Gupta-onthullings nie? Het “staatskaping” dan nie reeds plaasgevind nie?

Trouens, daar word nou wild vinger gewys dat Zuma se bande met die Guptas nie al voorbeeld is nie. Ander staan glo ook agter die deur.

En is dit so uniek?

Die literatuur verwys gewoonlik met ’n korporatiewe magsgreep hoe een korporatiewe reus ander sake-ondernemings kaap, of selfs die eie onderneming suiwer.

Maar die gedagte dat sakelui ’n onbehoorlike greep op die staat of ander entiteite begin uitoefen, is ook nie vreemd nie. Griekeland vaar byvoorbeeld nie baie goed op die persvryheidsindeks nie, en die greep wat groot sakelui op die inhoud van Griekse media het, word as een van die redes aangedui.

Die sukses van tenderpreneurskap hang uitsluitlik af van die ongesonde greep wat hierdie sakelui op besluitnemers in die staat en/of regering het.

Juis die gevaar van staatskaping maak dat dit ’n ongesonde beginsel is dat skenkers aan politieke partye, veral die regerende party, geheim gehou word. Dit wek die indruk dat “gekoopte belange” geheim gehou word.

In die VSA speel korporatiewe VSA ’n besliste rol om regeringsbeleid min of meer op ’n bepaalde koers te hou. Vir ’n regeringsleier om byvoorbeeld strenger besoedelingsbeperkings in te stel, verg hare op die tande.

Kort-kort is daar sprake van ’n geheimsinnige “derde mag” wat agter die skerms die regering of ander instansies se toutjies trek.

Korporatiewe staatskapings word baie selde as positiewe verwikkelinge beskou, hoewel dit, teen die huidige agtergrond in Suid-Afrika, debatteerbaar kan raak as sakelui nie in eie belang nie, maar in belang van die land, druk uitoefen dat Zuma die trekpas moet kry – min of meer soos die oproep van Johann Rupert.

Gewoonlik word staatskaping egter deur eiebelang gekenmerk. Henry Jeffreys vra byvoorbeeld in Netwerk 24: “Wat kry Zuma deur die land se silwer te verkoop?” Die beginsel is eenvoudig. ’n Kapitaalryke persoon of instansies raak in ’n “algemeen korrupte verhouding” met ’n politikus, verkieslik die regeringsleier, betrokke en verkry sodoende reusagtige voordele. Die politikus word op die een of ander wyse beloon daarvoor.

Korrupsie staan breed oor die pakket geskryf, en dit geskied dus gewoonlik in groot geheimhouding – tot die korporatiewe “vennoot” soveel selfvertroue het dat hy arrogant sy stem begin dik maak, soos soms met dwelmbase gebeur. Maar, volgens die Wêreldbank, steel korrupsie ’n land se toekoms. So ’n “algemeen korrupte verhouding” werk dus negatief in op enige poging om die land se ekonomie te bestendig.

Die tweede probleem is dat dit al die beginsels van demokrasie die nek inslaan. Of liewer, dit ontbloot gebreke in die demokrasie, veral as dit die regeringshoof self is wat korrup is.

Dis nie iets unieks aan Suid-Afrika nie. Brasilië is in ’n warboel nadat teen ’n vorige regeringshoof opgetree is, in Israel is ’n oudpremier tronk toe gestuur, en in Afrikalande soos die DRK is dit bykans onmoontlik om sake te doen sonder om te onthou dat gawes nie die gevolg van verdienste is nie, maar van gunste wat weer beloon moet word.

Wat Suid-Afrika nou dringend nodig het, is groot, sigbare stappe om die negatiewe beeld af te skud. Die land kan nie die luukse bekostig van binne-ANC-ondersoeke (wat weer die reputasie het van alles onder die mat invee nie).

#ZumaMustFallNow!


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Latest Images