Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Internasionale terreur en staatsterreur

$
0
0
Polisiebeamptes en soldate patrolleer die strate van Brussel (Sondag, 21 November 2015) Foto: STEPHANIE LECOCQ / EPA

Polisiebeamptes en soldate patrolleer die strate van Brussel (Sondag, 21 November 2015) Foto: STEPHANIE LECOCQ / EPA

Minstens 34 mense is dood en ongeveer 230 beseer toe Brussel gister onder ’n reeks terreuraanvalle deurgeloop het. Die Islamitiese Staat (IS) het verantwoordelikheid aanvaar.

Dit volg twee dae ná die aankeer van Salah Abdeslam, die man wat intensief gesoek is in verband met die Paryse terreuraanvalle op 13 November verlede jaar.

Die jongste aanvalle onderstreep net weer dat terreur nie ontwerp is om mooi te wees nie. Dit is die drama van geweld en dis ’n uiterste vorm van propaganda van die daad.

Volgens die IS is die aanvalle uit weerwraak omdat België deel van die internasionale koalisie is wat teen die IS optree. Dis ’n halwe waarheid – dit is immers ’n verklaarde beleid van die IS om sy revolusie om die nuwe kalifaat te vestig, na ander lande uit te voer. Uiteindelik is geen land wat die radikale Islam teenstaan van geweld gevrywaar nie.

Dit verskaf brandstof aan die veldtogte van mense soos Donald Trump.

As daar nou ’n land is wat sal weet wat die impak van terreur is, is dit Suid-Afrika. Suid-Afrika het dit alles beleef – van die Kerkstraat-bomontploffing tot die opblaas van ’n baba op ’n plaaspad tot ’n bloedbad in ’n vrouekroeg. Vermeende meelopers is wreedaardig op die sogenaamde necklace-metode vermoor. Met hierdie terreurdade het die plegers daarvan heldestatus verwerf.

En waar was die kollektiewe gewete van die wêreld toe?

Diegene wat toe bevoorreg was om buitelandse media te kon lees, het weinig hiervan te lese gesien. Die groot fokus was op wat staatsterreur genoem is. Die destydse Suid-Afrikaanse regering is uitgebeeld as ’n bewind wat die staatsmasjinerie inspan om die inwoners, en veral diegene wat openlik in opstand teen apartheid gekom het, genadeloos te jag. Selfs ná die opspraakwekkendste onthullings voor die Waarheids- en Versoeningskommissie, onthullings oor Vlakplaas en ander, het niks aan die lig gekom wat naastenby inhoud kon gee aan van die mees verregaande media-aansprake oor Suid-Afrikaanse staatsterreur nie.

Terreur kan nooit goedgepraat word nie, al het ’n mens ook hóé simpatie met die saak van die plegers. Die saak maak egter nie van die persoon wat ’n daad van terreur pleeg ’n vryheidsvegter of humanis nie.

Dit bevorder selde ’n demokratiese en menseregtekultuur, selfs al was dit die kenmerk van die beweging/staat voor terreur as metode ingespan is. Ná die 1994-oorname het Suid-Afrika vriendskapsbande met die mees bedenklike kalante soos Ghaddafi van Libië en Fidel Castro van Kuba gehandhaaf. Telkemale het Suid-Afrika sy VN-stem op ’n bedenklike wyse uitgebring soos byvoorbeeld in ’n vroeëre teenstem teen die veroordeling van die destydse bewind in Mianmar wat mildelik staatsterreur ingespan het.

Tot hoe ’n mate verbind so ’n bewind hom tot die hele spektrum van die demokratiese regstaat, asook menseregte wat minderheidsregte insluit? Daar mag sonstraaltjies (of reënboë) wees wat (tydelik) hoop bring, maar die hele pakket van magshebbers weerspieël dit selde. Sodra daar ’n leierskapsverandering intree begin die mooi ideale ontspoor. Dan begin ’n vrye pers meer as net ’n lastigheid word. Dan begin onafhanklike liggame ’n steen des aanstoots word en burgerlike instansies wat kollektief na belange omsien word die vyand. Dan bly minderheidsregte in die slag.

België het nou die steun van die wêreld nodig om die probleem hok te slaan. België is boonop strategies goed geleë om ook die IS se terreur na Frankryk, Nederland en Duitsland uit te voer. België se stryd is nou ons almal s’n.

Die internasionale koalisie teen die IS kan ook nou nie meer onkunde pleit oor die IS se vermoëns en bereidwilligheid om elders ter wêreld toe te slaan nie. ’n Spoedige militêre oorwinning is nou broodnodig, maar dan begin die eintlike stryd eers wanneer om die harte van mense meegeding moet word.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!