Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Pa van twee sterf terwyl hy doen waarvoor hy lief was

$
0
0
Willem Venter. Foto: Verskaf.

Willem Venter. Foto: Verskaf.

Willem Venter (37), ʼn boorman en plaasbestuurder wat Saterdag op ʼn plaas in Meyerton in Gauteng doodgeskok is, was ʼn hardwerkende gesinsman wat ʼn groot leemte in die gemeenskap gaan los.

Só beskryf Buks Venter (54), familielid en eienaar van die booronderneming en plaas vir wie Willem die afgelope 21 jaar gewerk het, sy neef “wat saam met hom groot geword het”.

“Willem woon op ons plaas saam met sy vrou, Adele, en twee seuns, onderskeidelik 4 en 11 jaar oud, op ʼn gedeelte wat in sy naam geregistreer is,” het Buks aan Maroela Media gesê. “Hy was baie lief vir sy werk en ʼn ontsettende lojale en harde werker. Hy was baie goed in wat hy gedoen het en het nooit gekla nie, al moes hy soms sewe dae ʼn week werk.”

Oor Saterdag se tragedie sê Buks hulle was omstreeks 15:00 besig om boorwerk op die plaas te doen. “Ons was besig om gereedskap oor te laai van een boor na ʼn ander toe Willem ʼn boortoring opgetel het. Die son het in sy oë geskyn en hom verblind en dit was toe dat die boortoring met ʼn oorhoofse kragkabel in aanraking gekom het,” het Buks gesê.

Die impak van die skok het Willem sowat twee meter ver geslinger. Buks het dadelik sy suster, wat naby woon en ʼn verpleegster is, geskakel en begin om noodhulp toe te pas totdat sy by hom oorgeneem het. Paramedici van Netcare 911 was kort daarna op die toneel.

“Hulle het ʼn adrenalien-inspuiting toegedien en alles probeer om sy hartklop aan die gang te kry, maar dit was tevergeefs.” Willem is op die toneel dood verklaar.

Buks het gesê Willem was bekend en geliefde onder inwoners van die gemeenskap en altyd vriendelik en hulpvaardig. “Die ondersteuning van die gemeenskap is wonderlik en getuig van die goeie mens wat hy was. Hy het vir sy gesin geleef en hulle was onskeidbaar.”

Buks het gesê Willem sal Vrydag op die plaas te ruste gelê word. Die diens sal ook daar waargeneem word. “Ons het gereël vir ʼn perdelykswa om sy kis te trek net om dit so bietjie ekstra spesiaal te maak,” het hy bygevoeg.

Willem se diens begin om 11:00 op die plaas Chrissiefontein 365, Impalastraat 16 in Meyerton, uitbereiding 6.

Willem laat sy ma, Tikkie Venter, sy vrou en twee seuns, sy skoonma, Ralie Lutzkie, en sy broer, Neels Venter, agter.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!