Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Man vas wat glo R71 miljoen by werk steel

$
0
0

hof-hamer

Argieffoto.

ʼn Man van Oos-Londen wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn groep maatskappye uit R71 miljoen bedrieg het, het Dinsdag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Henry Louis Fourie Schreuder (53) is op borgtog van R100 000 vrygelaat nadat hy homself by die Valke se Oos-Londen-kantoor oorgegee het.

Lt. Anelisa Feni, ʼn woordvoerder van die Valke, het gesê dat Schreuder voorheen die finansiële hoof van Floorworx, ʼn vloerbedekkingsmaatskappy, was. Hy het na bewering tussen 2005 en 2015 valse krediteure op die maatskappy se stelsel gelaai en dan betalings aan dié krediteure goedgekeur. Die maatskappy se hoofkantoor in Johannesburg het die betalings, R71 miljoen in totaal, gedoen omdat Schreuder dit goedgekeur het.

Betalings is glo in Schreuder se private bankrekening inbetaal, waarna hy glo gedeeltes van die geld na sy vrou en seun se rekeninge oorgeplaas het. Die Valke beweer ook dat hy ʼn groot gedeelte van die geld gebruik het om mee te dobbel en luukse items soos motors, juwele en Persiese tapyte te koop.

Die saak is in Desember verlede jaar na die Valke verwys nadat iemand van die onregmatige betalings bewus geraak het. Schreuder sal op 5 April weer in die hof verskyn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621