Ses persone is in hegtenis geneem in verband met ʼn aanval op ʼn plaas in Zeerust, Noordwes, waar ʼn 71-jarige man en sy werknemer vasgebind is voor hulle beroof is.
“Die eerste verdagte, ʼn 17-jarige, is verlede week Donderdag in hegtenis geneem in verband met die voorval in Kareepoortfontein,” het kol. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hy het glo ʼn vuurwapen en kontant, wat vermoedelik op die plaas gesteel is, by hom gehad.”
Volgens Mokgwabone het die ondersoek Maandag gelei tot die inhegtenisneming van nog vyf verdagtes. “Hulle is in en rondom Zeerust in hegtenis geneem,” het hy gesê.
Volgens inligting was al ses verdagtes gewapen met byle en pangas toe hulle die plaas betree het. Hulle het die boer en sy werknemer in die tuin gevind. “Hulle het die twee mans met ʼn tou vasgebind en geld geëis,” het hy bygevoeg. “Die rowers het twee vuurwapens en kontant van die boer gesteel.”
Vyf van die verdagtes sal na verwagting Donderdag in die Zeerust-landdroshof verskyn. Die minderjarige is intussen in die toesig van sy ouers vrygelaat, hangende ʼn ondersoek deur maatskaplike werkers.