Wayne Duvenhage, voorsitter van Outa, het in ʼn verklaring gesê die organisasie glo dat motoriste wat nog nooit vir e-tol geregistreer het of enige e-tolrekeninge betaal het nie, nie in gevaar is nie.
“Sanral se besluit om niebetalers deur ʼn siviele eis te vervolg, is bedenklik omdat dit die benadering is wat gewoonlik gebruik word vir geskille wat kontraktueel van aard is. Dit wil dus voorkom asof die maatskappye en mense wat gedagvaar kan word daardie mense en maatskappye is wat Sanral se e-tolkontrakte onderteken het en toe nie hul e-tolrekeninge betaal het nie,” het hy gesê. Volgens Duvenhage is Outa bewus van talle besighede wat aanvanklik “onder dwang van Sanral se dreigemente van strafregtelike vervolging” die padagentskap se e-tolooreenkoms onderteken het, maar later hul ooreenkomste met Sanral gekanselleer het.
“Ons beraam dat tussen 60% en 70% van Gautengse padgebruikers nooit geregistreer het of enigiets betaal het nie. Hierdie mense het baie geldige argumente om hulself te verdedig en ons glo hulle is nie in gevaar nie.”
Volgens Duvenhage kan Sanral nie steun op sy “eensydige ooreenkoms” oor e-tol nie, aangesien die betrokke paaie “onwettiglik” tot tolpaaie verklaar is. “Die feit dat Sanral ook die aanspreeklikheid van die padgebruiker bepaal het met toerusting wat nie in Suid-Afrika goedgekeur, geverifieer en gesertifiseer is in ooreenstemming met Suid-Afrikaanse wetgewing nie, maak Sanral se saak nog meer ingewikkeld. Outa het ook baie bewyse wat daarop dui dat die toerusting onbetroubaar is.”
Intussen het advokaat Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer, ook uitgevaar teen Sanral se voorneme om motoriste te dagvaar. Volgens Alberts toon die padagentskap duidelik sy minagting teenoor die Nasionale Verbruikerskommissie en die kommissie se prosesse om sake te bereg.
“Die VF Plus het reeds namens alle rekeninghouers ʼn klag by die Verbruikerskommissie ingedien waarin geargumenteer word dat Sanral se meetinstrumente nie voldoen aan die vereistes van die Wetlike Metrologiewet (Wet 9 van 2014) nie. Die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS) het reeds aan die VF Plus bevestig dat die e-toltoerusting nooit gesertifiseer is soos die wet vereis nie. Die NRVS het ook bevestig dat Sanral nooit aansoek gedoen het om sertifisering nie,” het Alberts gesê.
“Alvorens die kommissie nie hieroor ʼn bevinding gemaak het nie, kan Sanral dus geen rekening uitreik of stappe doen om geld in te vorder nie aangesien hy moontlik die wet oortree en alle rekeninge daarom onwettig sal wees. Dit is benewens die feit dat die totale stelsel volgens die VF Plus immoreel en ongrondwetlik is.”
Alberts het gesê die party het Dinsdag ʼn kennisgewing aan die verbruikerskommissaris gestuur om hom in kennis te stel van Sanral se minagtende optrede teenoor die kommissie.