Die agentskap het in ʼn verklaring gesê balju’s is opdrag gegee om oor die volgende paar dae die eerste klomp siviele dagvaardings aan mense in Gauteng uit te reik.
“Dit sluit ook groter eise aan meestal maatskappye in. Weens die groot bedrae wat in hierdie gevalle geskuld word, word dié dagvaardings deur die hooggeregshof hanteer,” het Alex van Niekerk, die projekbestuurder van die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP), gesê.
Volgens Van Niekerk behoort die besluit om motoriste met uitstaande e-tolskuld te dagvaar geensins ’n skok te wees nie, aangesien die agentskap dit duidelik gemaak het dat daar ʼn skuldinvorderingsproses teen niebetalers ingestel sal word. “Sanral het ʼn verantwoordelikheid teenoor die land en duisende voertuig-eienaars wat wel hul e-tolrekeninge betaal om die uitstaande skuld van niebetalers in te vorder,” het hy gesê.
Hy het beklemtoon dat motoriste herhaaldelik daaraan herinner is om hul e-tolskuld te betaal, nie net deur die media nie maar ook deur SMSe, e-posse en telefoonoproepe. “Ons is verplig om op te tree. Die wêreldgraderingsagentskappe en beleggers kyk ook na Sanral en verwag van ons om te bewys dat ons toegewyd is aan finansiële verantwoordelikheid en hoë standaarde van korporatiewe bestuur.”
Van Niekerk het gesê ʼn siviele dagvaardiging moenie met strafregtelike vervolging verwar word nie.