Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het by Gautengse nooddienste aangesluit om te help soek na ʼn 58-jarige vrou wat vermis is nadat haar motor Donderdagaand van ʼn laagwaterbrug in die noorde van Johannesburg meegesleur is.
Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, het gesê NSRI-beamptes het Saterdag by die nooddienste aangesluit by hul soektog in die Klein Jukskeirivier in Fourways.
“Nooddienste het die gebied al gefynkam sedert die voorval plaasgevind het, en die NSRI is versoek om by die soektog betrokke te raak,” het Lambinon gesê. Die soek-en-reddingspan bestaan uit die NSRI se Victoria Lake-bemanningslede, die polisie se duikeenheid en honde-eenheid. ʼn Polisiehelikopter word ook ingespan.
Die rivier word van Fourways tot by Hartbeespoortdam gefynkam. Die soektog het tot Dinsdagoggend niks opgelewer nie, maar duur voort.
Maroela Media het vroeër berig die vrou het glo ʼn laagwaterbrug naby Chartwell naby Fourways probeer oorsteek, toe ʼn sterk stroom haar motor teen die brug se versperring vasgedruk en in die rivier meegesleur het. Daar word vermoed dat sy uit die motor geklim het in ʼn poging om by die bank van die rivier uit te kom, toe sy verder deur die vloedwater meegesleur is.