Leon du Plessis, wat in polisieaanhouding is sedert hy drie weke gelede in hegtenis geneem is, sal Dinsdag weer in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn om vir borgtog aansoek te doen. Du Plessis se borgtogverhoor is voorheen uitgestel omdat hy ʼn Afrikaanse tolk teenwoordig wou hê.
Du Plessis het glo vroeg in Februarie ʼn prentjie op Facebook geplaas van die silhoeët van ʼn man wat ʼn haelgeweer vashou met ʼn bloedspoor agter hom en die woorde, “Die boere is gatvol”. Hy staan tereg op aanklagte van aanhitsing tot geweld en misdaad, die besit van ploftoestelle, die onwettige besit van ammunisie en die besit van vuurwapens wat nie in ʼn kluis toegesluit is nie.
Jabu Mahlangu, Sanco se nasionale woordvoerder, het gesê die polisie het glo ʼn klopjag op Du Plessis se huis gedoen waartydens daar onder meer 1 300 koeëls gevind is.
Mahlangu het die mense geloof wat die owerhede in kennis gestel het van Du Plessis se inskrywings op Facebook. “Die wenk [aan die owerhede] bevestig dat nie alle wit mense, en spesifiek Afrikaners, rassiste is nie. Die meerderheid mense verwelkom versoening, nasiebou en sosiale samehorigheid,” het hy gesê.