Die Helen Suzman-stigting het Maandag gesê hy was die slagoffer van ʼn gewapende rooftog by sy kantoor in Parktown, Johannesburg.
Volgens die stigting het die inbraak Sondagmiddag plaasgevind. Die rowers het ʼn ongewapende veiligheidswag by die ingang van die perseel oorrompel voor hulle rekenaars op die tweede verdieping gesteel het.
“Dit was nie ʼn gewone rooftog nie,” het Francis Antonie, direkteur van die stigting, gesê. “Die diewe het presies geweet wat hulle soek. Ons weet uiteraard nie wie dit is nie, maar ons het ons vermoedens.”
Volgens Antonie het die rowers hul voertuig in die kelderverdieping parkeer nadat hulle die wag gedwing het om die hek oop te maak. “Hulle het geweet daar is ʼn hysbak na die tweede verdieping. Hulle het nie ander ondernemings in die gebou geteiken nie. Buiten die rekenaars is niks waardevol gesteel nie,” het hy bygevoeg.
Volgens hom is die stigting een van verskeie burgerlike organisasies wat begin het met regstappe teen die regering in ʼn poging om burgerlike regte en vryheid in die Grondwet te bewaar en te beskerm. “Die stigting en die regsorganisasie, Freedom under Law, het onlangs aansoek gedoen om ʼn interdik te bekom teen die hoof van die Valke, genl.maj. Berning Ntlemeza, hangende ʼn hersiening van die prosesse wat tot sy aanstelling gelei het,” het Antonie bygevoeg.
Ntlemeza is deur pres. Jacob Zuma in die posisie as hoof van die land se prioriteitsmisdaadeenheid aangestel, ondanks vorige bevindinge wat sy integriteit, eerlikheid en bevoegdheid in twyfel getrek het.
“Hierdie optrede teen ʼn nieregeringsorganisasie wat optree in die belang van die publiek, is ʼn voorbeeld van die onwettigheid in ons land. Ons verafsku dit. Die stigting wil niks meer hê nie as ʼn land wat sy burgers beskerm deur die wet,” het hy bygevoeg. “Die stigting doen ʼn beroep op alle burgerlikesamelewingsorganisasies, die sakegemeenskap en die publiek om saam te staan en hul stem te laat hoor ter verdediging van die groeiende bedreiging van ons vryheid in ons Grondwet waarvoor ons so hard baklei het.”
Die polisie was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.