
Argieffoto
Twee soldate, wat by Tempe-weermagbasis in Bloemfontein gestasioneer is, is aangeval en met messe gedreig voor hul wapens gesteel is.
“Die twee soldate het Maandag wag gestaan by die Tempe-ondersteuningspakkamer toe hulle omstreeks 02:00 geluide gehoor het,” het kapt. Chaka Marope, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê. “Toe hulle die deur oopmaak, het twee mans met klapmusse en gewapen met messe, hulle oorval.”
Die soldate en die aanvallers het glo gestoei, maar die verdagtes kon die soldate oorweldig nadat hulle glo met pepersproei gespuit is. “Die verdagtes het die soldate se hande en voete met hul eie stewels se veters vasgebind. Hulle het twee R4-gewere met 30 rondtes ammunisie elk en die slagoffers se twee selfone gebuit,” het Marope bygevoeg.
Die verdagtes het in ʼn voertuig gevlug.
“Die Parkweg-polisie ondersoek ʼn saak van gewapende roof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.”
Die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met meer inligting oor die voorval om kapt. David Mokhobo te skakel by 082 453 0760.