
Argieffoto
Die polisie in Gauteng is op soek na twee “gevaarlike” verhoorafwagtendes wat ontsnap het toe gewapende mans die polisievoertuig, waarin hul vervoer is, voorgekeer het.
“Twee polisie-hofordonnanse het elf verdagtes van die Atteridgeville-landdroshof in Pretoria na Kgosi Mampuru-gevangenis vervoer toe ʼn donkerrooi sedan met vyf insittendes hul voertuig in Matshigastraat voorgekeer het,” het kapt. Tsekiso Mofokeng, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die mans was gewapen met drie 9 mm-pistole, ʼn AK47 en ʼn R5-geweer. Hulle het die polisiebeamptes met vuurwapens gedreig, die slot van die vangwa oopgekeer en die twee verdagtes vrygelaat.”
Volgens Mofokeng is die mans ook daar weg met die polisievoertuig se sleutel.
Die twee verdagtes wat ontsnap het, is Abram Matombo (36) wat in aanhouding was vir gewapende roof, en Bethuel Fosi (25) wat in aanhouding was op aanklag van diefstal.
Lt.genl. Lesetja Mothiba, provinsiale kommissaris, het gesê die polisie sal alles in hul vermoë doen om die misdadigers so gou as moontlik weer aan te keer, aangesien baie ure reeds belê is om hulle in die eerste plek in hegtenis te neem. Hy het gesê ʼn deeglike ondersoek sal gedoen word oor die ontsnapping. “Indien ons lede nalatig was, sal hulle aanspreeklik gehou word,” het hy bygevoeg.
Hy het die lede van die gemeenskap gemaan om nie die verdagtes self te konfronteer nie, maar om eerder Crime Stop te skakel by 08600 10111 of ʼn SMS te stuur aan 32211.
“Die mans sal, sodra hulle weer aangekeer word, tereg staan op bykomende aanklagte van ontsnapping uit wettige aanhouding.”