ʼn Tweejarige kleuter het Woensdagaand in ʼn swembad by ʼn huis in Durban-Noord verdrink.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê volgens mense op die toneel het die seuntjie vermis geraak en sy familie het na hom gaan soek. Hy is omstreeks 18:20 gevind waar hy in die swembad gedryf het.
“Bure het die seuntjie uit die water gehaal en toe paramedici by die toneel opdaag, was veiligheidsbeamptes besig om te probeer om hom weer by te bring,” het Botha gesê.
“Twee paramedici het oorgeneem en vir ʼn uur lank onverpoosd gewerk om die seuntjie se lewe te probeer red. Hy is ongelukkig op die toneel dood verklaar.”
Die naam van die kleuter is nie bekendgemaak nie.