Die EFF het in ʼn verklaring gesê die partye voel “geregverdig” deur Jonas se erkenning aangesien die Gupta-familie hulle as “skinderbekke” probeer uitmaak toe hulle voorheen die Jonas-bewering bekendgemaak het. “Dit bewys maar net dat Suid-Afrika direk onder die leierskap van ʼn onverkose, burgerlike familie van buitelandse nasionaliteit staan, wat die besluite en lewens van politici, spesifiek dié van Zuma, beheer en beïnvloed,” het die verklaring gesê.
“Nene en Jonas is nie die enigstes nie. Die EFF het reeds in September 2015 gesê die aanstelling van Mosebenzi Zwane as die minister van minerale hulpbronne was nie ʼn gesamentlike ANC-besluit nie, maar die besluit van die Gupta-familie om Ngaoko Ramatlhodi met hul marionet te vervang en sodoende staatshulpbronne te plunder. Die gevolglike verkryging van Optimum Coal deur die Guptas ondersteun hierdie feit.”
Die EFF het verder gesê dit is duidelik dat Zuma die politieke besluitneming van die land aan ʼn enkele familie oorhandig het en dat die Guptas die stemproses en demokratiese stelsel van die land nutteloos maak.
Intussen het Mmusi Maimane, leier van die DA, die EFF se bewering dat Jonas nie die enigste politieke hooggeplaaste is wat deur die Guptas genader is nie herhaal en gesê dat daar ook bewerings is dat Fikile Mbalula deur die Gupta-familie ingelig is dat hy die minister van sport en ontspanning sal word nog voordat Zuma hom daarvan ingelig het.
Die Gupta-familie het ook glo kennis gedra van die aanstelling van Des van Rooyen as minister van finansies nog voor enigiemand anders en boonop is twee senior raadgewers, wat noue bande met die Guptas het, glo in die nasionale tesourie saam met Van Rooyen aangestel sonder dat behoorlike prosedures gevolg is.
Volgens Maimane het die maatskappy Tegeta Exploration, wat deur die Guptas besit word, ʼn tender ontvang om Eskom van steenkool te voorsien kort nadat hulle die Optimum Coal-myn aangekoop het. Dit nadat Glencore, wat voorheen die myn besit het, nie die tender gekry het nie omdat die steenkool “sub-standaard” was. “Die New Age-koerant onder eienaarskap van die Guptas het ook moontlik voorrang geniet in die plasing van regeringsadvertensies,” het Maimane gesê.
Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, het in ʼn verklaring gesê Jonas se onthulling het ingrypende implikasies vir pres. Jacob Zuma, aangesien dit sy posisie in die openbare oog en die ANC verder verswak.
“Me. Vytjie Mentor het gister presies dieselfde stellings oor die Guptas se rol gemaak en vertel hoe hulle haar ʼn ministerspos aangebied het. Die logiese afleiding is nou dat al die skinderstories die afgelope tyd rondom minister Nene se afdanking dan ook waarskynlik korrek is,” het Mulder gesê. “Die openbare beskermer of ʼn geregtelike kommissie moet die Guptas se invloed en rol in die regering ondersoek. Dit is die enigste manier hoe pres. Zuma op ʼn geloofwaardige wyse sal kan bewys dat die Guptas nie op hierdie wyse invloed in die regering uitgeoefen het nie.”