Fifa het ʼn eisdokument van 22 bladsye by ʼn hof in New York ingedien waarin hy skadevergoeding van meer as $190 miljoen eis wat hy na bewering as gevolg van korrupte sokker- en bemarkingsbeamptes verloor het. Talle beamptes het reeds skuld erken op die korrupsie-aanklagte teen hulle, terwyl aanklagte nog teen verskeie ander beamptes hangend is.
Volgens Fifa is die sokkerfederasie die eintlike slagoffer van korrupte individue omdat hulle die vertrouensposisies by die federasie misbruik het en sodoende langtermyn skade aan Fifa berokken het. Gianni Infantino, Fifa se president, het Woensdag in ʼn verklaring gesê die geld wat hierdie beamptes in hul sakke gesteek het, was veronderstel om gebruik te word vir die ontwikkeling en bevordering van die spel. “Fifa as die internasionale sokkerfederasie eis daardie geld terug en ons is vasbeslote om dit te kry, maak nie saak hoe lank dit vat nie,” het Infantino gesê.
Benewens die $10 miljoen eis Fifa ook $28,2 miljoen vir “jare se betalings, bonusse, vlugte en daaglikse uitgawes” van korrupte beamptes. Die federasie wil ook vergoed word vir “aansienlike regskostes” wat aangegaan is tydens die skandaal, skadevergoeding vir skade aan Fifa se reputasie en vergoeding vir enige ander omkoopgeld en gunslone “wat moontlik gemaak is deur die waarde van die Fifa-handelsmerk”.
“Fifa het nou bekend geword vir die beskuldigdes se omkopery en korrupsie en nie sy goeie werk nie. Fifa is geregtig op skadevergoeding vir die skade aan sy sakeverhoudinge, reputasie en nie-tasbare eiendom,” lui die eis.
Fifa het in Desember verlede jaar sy voormalige president, Sepp Blatter, en Michel Platini, president van die Europese Sokkerbeheerliggaam (Uefa) en adjunkpresident van Fifa, vir agt jaar van alle sokkerverwante aangeleenthede geskors. Die skorsing het verband gehou met ʼn onregmatige betaling van twee miljoen Sweedse frank van Fifa aan Platini in Februarie 2011. Blatter het die betaling in sy amp as Fifa-president goedgekeur.