ʼn 15-jarige meisie het Woensdag in die Springbok-landdroshof in die Noord-Kaap op aanklag van moord verskyn.
Die meisie word daarvan beskuldig dat sy ʼn 17-jarige meisie met klippe doodgegooi het.
Maj. Dimakatso Mooi, polisiewoordvoerder, het gesê daar het na bewering Sondag om 00:10 ʼn argument tussen die twee meisies ontstaan. “Dit is nog nie duidelik waaroor die meisies baklei het nie,” het Mooi gesê. “Die 15-jarige het die 17-jarige glo gestenig. Die slagoffer is deur paramedici op die toneel dood verklaar.” Die voorval het in die Bergsig-woonbuurt plaasgevind.
Die meisie se naam mag nie bekend gemaak word nie aangesien sy minderjarig is.
Die saak is tot 24 Maart uitgestel. Sy bly in aanhouding in ʼn jeugsentrum op die dorp.