Twee broers, onderskeidelik 23 en 28 jaar oud, het Dinsdag vlugtig in ʼn hof in Kaapstad verskyn op aanklag van die vermeende verkragting en moord van ʼn 19-jarige meisie in Khayelitsha.
Die broers se name mag nie bekend gemaak word voor hulle gepleit het nie.
Sinoxolo Mafevuka se halfnaakte liggaam is op 1 Maart in ʼn gemeenskaplike toilet gevind. Haar gesig is met ʼn baadjie bedek en haar klere is in die spoelbak gedruk.
Die broers het vlugtig voor landdros Xolani Patric Menyiwe in die Khayelitsha-distrikshof verskyn. Menyiwe het, op versoek van die verdediging, die media verbied om die name of adresse van die mans bekend te maak.
Die landdros het beslis dat die mans in aanhouding moet bly tot 24 Maart om die polisie kans te bied om agtergrondinligting oor die mans te bekom. Dié inligting sal die staatsaanklaer in staat stel om te besluit of hy die borgtogaansoek gaan teenstaan, en of borgtog of net ʼn waarskuwing voldoende sal wees tydens die borgtogaansoek.
Geen melding is Dinsdag tydens die hofverrigtinge gemaak oor ʼn beplande aansoek om borgtog nie.
Die broers voer aan hulle het nie enige vorige skuldigbevindings of hangende kriminele sake nie.
Die mans is op 13 Maart in hegtenis geneem.