Die presidensie het Dinsdag in ʼn verklaring gesê hy het navrae ontvang oor ʼn uitlating op sosiale media deur ʼn vorige ANC-LP, me. Vytjie Mentor.
“President Jacob Zuma onthou glad nie me. Mentor nie,” het Bongani Majola, woordvoerder van die presidensie, in ʼn verklaring gesê. “Hy kan dus nie kommentaar lewer oor enige beweerde voorval in haar loopbaan nie.”
Maroela Media het vroeër berig Mentor, voormalige voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare werke, het onthul dat die Gupta-gesin glo vir haar ook ʼn pos as minister aangebied het.
Mentor het op Facebook gesê sy is na die Gupta-familie se herehuis in Saxonwold in Johannesburg ontbied in die tyd toe Barbara Hogan as minister gepos is.
Hierdie onthulling kom te midde van gerugte dat die Gupta-gesin ook Mcebisi Jonas, die adjunkminister van finansies, einde verlede jaar na hul huis in Johannesburg laat kom het en hom die pos as minister van finansies aangebied het. Dit het glo gebeur voordat Zuma Nhlanhla Nene in Desember in die pad gesteek het. Volgens die gerugte het Jonas egter die pos van die hand gewys, waarna David van Rooyen aangestel is.
Pravin Gordhan, wat na Van Rooyen aangestel is, het Maandag tydens ʼn mediakonferensie in Johannesburg ontken hy weet enigiets van die beweerde vergadering en gesê hy is nog nooit genooi om die Gupta-familie te ontmoet nie.
Lees alle vorige berigte oor die Guptas op Maroela Media.