ʼn 67-jarige man is Dinsdagoggend ernstig beseer toe ʼn varkbeer hom op ʼn kleinhoewe naby Magaliesburg, in die weste van Gauteng, aangeval het.
Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 08:30 op ʼn kleinhoewe naby die R24 gebeur.
“Die vark behoort na bewering aan die man, wat gebyt is, se buurman. Die vark het glo losgekom en die man is aangeval en erg gebyt toe hy probeer het om die vark terug in sy hok te kry,” het Mathe gesê.
Sy het gesê die man is verskeie kere regoor sy lyf gebyt.
Die man is op die toneel gestabiliseer en in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal in Krugersdorp geneem vir verdere behandeling.