Die regering het geappelleer teen die Noord-Gautengse hooggeregshof se beslissing dat hy die grondwet oortree het deur te versuim om al-Basjir in hegtenis te neem tydens sy besoek aan Suid-Afrika.
Die minister van justisie en 11 ander regeringsinstellings het aangevoer al-Basjir het, volgens internasionale gewoontereg, immuniteit as staatshoof en daarom kon Suid-Afrika hom nie in hegtenis neem toe hy die Afrika-unie se beraad in Junie verlede jaar bygewoon het nie.
Die Southern African Litigation Centre (SALC) het aangevoer Suid-Afrika, as ʼn ondertekenaar van die Statuut van Rome, wat die Internasionale Strafhof tot stand gebring het, was verplig om al-Basjir in hegtenis te neem nadat die Strafhof ʼn lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik het.
Die appèlhof het bevind Suid-Afrika se goedkeuring van die implementering van die Statuut van Rome in 2002, het in wese alle vorme van immuniteit, wat immuniteit vir staatshoofde insluit, nietig verklaar.
Die staat se regspan het verder aangevoer geen hof in die wêreld het, sover bekend, gelas dat ʼn staatshoof, in sy of haar amp, in hegtenis geneem moet word nie. Hulle het daarop gewys dat die Noord-Gautengse hooggeregshof se uitspraak verreikende gevolge vir al-Basjir inhou, aangesien dit hom nou verhoed om na of deur Suid-Afrika te reis.
Die staat se regspan het geargumenteer Suid-Afrika was onder geen wetlike verpligting om al-Basjir in hegtenis te neem nie en Suid-Afrika was eerder wetlik verplig om sy immuniteit te beskerm terwyl hy as Soedan se president dien.
Lees alle vorige berigte oor Omar al-Basjir op Maroela Media.