
Reddingsbeamptes by die Tubatserivier in Burgersfort in Limpopo waar die twee meisies op 11 Maart 2016 verdrink het (Foto: SAPD, verskaf)
Die polisie in Limpopo het Saterdag ʼn liggaam van een 14-jarige skoolmeisie uit ʼn rivier gehaal nadat sy en haar vriendin in die Tubatserivier in Burgersfort in Limpopo verdrink het.
“Die twee meisies wou Vrydag ná skool op pad huis toe die rivier oorsteek toe ʼn sterk stroom hulle meegesleur het,” het kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die soektog na die tweede meisie se liggaam duur voort.”
Limpopo, Gauteng, Noordwes en Mpumalanga het swaar reën gehad wat kitsvloede veroorsaak het en daartoe gelei het dat riviere en damme die afgelope paar dae hul walle oorstroom.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Vrydag nóg reënval vir Limpopo voorspel. Die provinsie is een van die dele wat deur die droogte geteister is.