Xavier Klein, ʼn eerstejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus (Puk), is Saterdagaand oorlede nadat hy en twee studentemaats in een van die universiteit se swembaddens gaan swem het.
Prof. Fika Janse van Rensburg, rektor van die universiteit, het gesê Xavier en sy twee vriende het Saterdagmiddag by die Fanie du Toit-sportgronde se swembad gaan swem. “Na ʼn paar lengtes het Xavier aan sy vriende genoem dat hy maagpyn het, en het ʼn rukkie op die kant gesit,” het Janse van Rensburg verduidelik. “Hy het toe egter weer saamgeswem en in die moeilikheid geraak. Sy maats het dit vinnig agtergekom en hom te hulp gesnel.”
Volgens Janse van Rensburg het waterpolo-spelers ook die vriende gehelp en hulle kon onmiddellik met mond-tot-mondasemhaling begin.
“Nooddienste, wat by die nabygeleë netbalwedstryde ontplooi was, kon binne minute aansluit,” het hy bygevoeg. Volgens Janse van Rensburg was personeellede van die universiteit se bemarking- en kommunikasie, huiskomiteelede, die huiskomitee, huisvader en voorsitter en adjunkvoorsitter van die Studenteraad op die toneel.
Hy is met ʼn ambulans na MediClinic geneem.
Xavier, ʼn student in Laureus-manskoshuis, se huisvader het dadelik sy ouers in kennis gestel om vervoer- en oornagreëlings te tref.
Hy is Saterdagaand omstreeks 23:00 oorlede.
“Ons kry swaar saam met sy ouers, familie, vriende en veral die mede-inwoners van Laureus,” het Janse van Rensburg gesê.
Die oorsaak van Xavier se dood is nog nie bekend gemaak nie.
Lees ook: Kgwadi betoon medelye ná Pukkie sterf