ʼn 35-jarige man is Saterdagoggend naby die Rhodes-gedenkteken aan die hang van Tafelberg in Kaapstad in hegtenis geneem.
“ʼn Ondersoek het polisiebeamptes Saterdagoggend gelei na ʼn wegkruipplek onder die Rhodes-gedenkteken,” het lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hy is in hegtenis geneem op aanklag van die verkragting van ʼn 23-jarige vrou op 19 November 2015.”
Traut het gesê die vrou is naby die Rhodes-gedenkteken verkrag en van haar persoonlike besittings beroof. “Speurders het ʼn moontlike verdagte geïdentifiseer en ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik,” het Traut bygevoeg.
Volgens hom ondersoek polisiebeamptes die moontlikheid dat die man ook met ander soortgelyke voorvalle in die omgewing verbind kan word. “Die man verskyn Maandag in die Wynberg-landdroshof,” het hy gesê.
Maroela Media het vroeër berig nog ‘n student aan die Universiteit van Kaapstad is vandeesweek naby die Rhodes-gedenkteken verkrag. Dit was vermoedelik minstens die sesde voorval in dié omgewing.
Lees alle vorige berigte oor die Rhodes-gedenkteken op Maroela Media.