Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het Vrydag berigte verwerp dat Durban nie in staat sal wees om in 2022 die Statebondspele te kan aanbied nie.
Saskok het in ʼn verklaring gesê hy is bewus van mediaberigte wat verband hou met uitlatings deur die LUR vir finansies in KwaZulu-Natal dat die provinsiale regering nie geld het om die Spele aan te bied nie.
“Ons wil dit benadruk dat Saskok, as beskermheer van die Statebondspele in Suid-Afrika, vol vertroue is dat die Spele in 2022 in Durban aangebied gaan word, en ons is toegewyd om ʼn eersteklasgeleentheid aan te bied,” lui die verklaring. “Ons het met verskeie vlakke van regering in verbinding getree – nasionaal, provinsiaal en plaaslik – en ons is vol vertroue dat die nodige ooreenkomste aangegaan sal word en alle befondsing bekom sal word.”
Gideon Sam, president van Saskok, het gesê hulle het reeds met verskeie aandeelhouers kontak gemaak om aan die verpligtinge te voldoen, soos uiteengesit in die tenderdokument. “Ons het gesprekke gehad met die nasionale regering en dit duur voort. Ons is bewus van die huidige ekonomiese klimaat, maar ons is vol vertroue dat ons aan ons verpligtinge sal kan voldoen om ʼn wêreldgehaltebyeenkoms op die Afrika-kontinent aan te bied. Onderhandelinge met die nasionale regering en tesourie duur voort. Ons word gelei deur besluite wat op ʼn nasionale vlak geneem word.”
Tubby Reddy, uitvoerende hoof van Saskok, het bygevoeg verskeie ooreenkomste is reeds met die nasionale regering aangegaan. “Ons werk onverpoosd om enige uitstaande kwessies op te los, insluitend befondsing vir die Spele. Ons benadruk dit dat Saskok ʼn wêreldgehalte Statebondspele sal aanbied waarop ons almal gaan trots wees. Ons vennote in die regering werk saam met ons om seker te maak dat die eerste Spele in Afrika onvergeetlik sal wees.”