AfriForum Jeug se aansoek om ʼn dringende interdik teen die Universiteit van Stellenbosch (US) om die universiteit te dwing om sy taalbeleid en –plan te implementeer, is Vrydag in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor.
Die hof het ʼn tussentydse interdik toegestaan waarin die universiteit beveel word om sy taalbeleid, wat breedweg vir gelykberegtiging tussen Afrikaans en Engels as onderrigtale voorsiening maak, van 29 Maart af te implementeer. Dié bevel volg nadat AfriForum Jeug ʼn hofaansoek gebring het waarin hulle beweer dat die US nóg sy taalbeleid en taalplan, nóg ʼn skriftelike onderneming wat die universiteit in Februarie aan AfriForum Jeug gegee het, uitvoer.
George Steyn, voorsitter van die US-raad, het erken die taal waarin sommige modules aangebied word, voldoen nie aan die taalspesifikasies wat in die 2016-jaarboek vervat is nie. Volgens hom wyk 268 modules van die taalspesifikasies in die onderskeie fakulteite af.
In ʼn beëdigde verklaring wat by die hof ingedien is, voer Steyn aan die uitvoerende komitee van die raad en die rektor se bestuurspan aanvaar die US tree onregmatig op deur af te wyk van die taalspesifikasies in die jaarboek.
AfriForum Jeug vra ook ʼn bevel aan om ʼn raadsbesluit van 20 Februarie, dat die taalbeleid buigsaam toegepas kan word, nietig verklaar en tersyde gestel word.
Volgens Steyn aanvaar die uitvoerende komitee van die raad en die rektor se bestuurspan ook hierdie besluit is regtens aanvegbaar omdat dit neerkom op ʼn wysiging van die taalplan sonder dat die voorgeskrewe regsproses gevolg is en sonder om AfriForum Jeug daaroor te raadpleeg, soos wat die US skriftelik onderneem het om te doen.
Prof. Arnold Schoonwinkel, viserektor van leer en onderrig, wat in AfriForum Jeug se aansoekstukke saam met prof. Wim de Villiers, die rektor, uitgesonder word as diegne wat die afwykings van die taalbeleid gedryf het, het in ʼn beëdigde verklaring Steyn se beëdigde verklaring bevestig in soverre dit op hom (Schoonwinkel) en die rektor se bestuurspan betrekking het.
“Hierdie is ʼn oorwinning vir die Afrikaanssprekende gemeenskap van Suid-Afrika. Dit is duidelik dat prof. de Villiers en sy bestuurspan nie die belange van die studente en universiteit op die hart dra nie,” het Hein Gonzales, woordvoerder vir AfriForum Jeug, gesê.