Martin Viljoen, woordvoerder van die universiteit, het gesê die kantoor en ʼn student se motor is omstreeks 22:00 aan die brand gesteek. “Die kantoor is heeltemal vernietig, maar niemand is in die voorval beseer nie,” het hy gesê. Aanvanklike aanduidings is dat die skade aan die gebou en kantoor sowat R300 000 beloop.
Volgens Viljoen is die brandalarm geaktiveer en veiligheidspersoneel en nooddienste het die brand in die kantoor in die kelderverdieping van Administrasiegebou B geblus. Veiligheidspersoneel kon ook daarin slaag om die brandende motor te blus, maar dele daarvan is beskadig.
“ʼn Saak van brandstigting en saakbeskadiging is by die polisie aangemeld. Klasse en ander akademiese aktiwiteite op die kampus gaan voort, maar personeel en studente word versoek om te alle tye waaksaam te wees,” het Viljoen gesê.
Volgens Viljoen het hulle onbevestigde berigte ontvang dat die brandstigters voormalige werknemers is van maatskappye wat deur die universiteit gekontrakteer is.
Prof. Wim de Villiers, US-rektor en visekanselier, het gesê die bestuur beskou die voorval in ʼn baie ernstige lig. “Dit is nie protes nie. Dit is kriminele optrede en is daarom totaal en al onaanvaarbaar. Ons het ʼn verpligting om die universiteit en sy mense te beskerm en sal nie huiwer om dit te doen nie. Ons sal ook dissiplinêr optree teen universiteitspersoneel en studente wat hulle skuldig maak aan wangedrag,” het De Villiers gesê.
Veiligheid by die administrasiegeboue is intussen opgeskerp.