Die Garsfontein-polisie in Pretoria het sy soektog afgelas na Leon Serfontein (30), eienaar van ʼn tuinontwerp-onderneming, wat Dinsdagoggend in raaiselagtige omstandighede verdwyn het, al is hy nog nie gevind nie.
Maroela Media het vroeër berig Serfontein is Dinsdag die laaste keer om 09:00 by ʼn kitsbank by Moreleta Plaza in die ooste van die stad gesien waar hy geld getrek het, vermoedelik om lone te betaal. Hy het daarheen gestap, aangesien hy binne loopafstand van die winkel bly. ʼn Veiligheidswag by die bank het bevestig Serfontein het geld by die kitsbank onttrek. Hy het ook gesê twee mans het hom glo daarna agtervolg.
Daniel du Bruyn (24), Serfontein se vriend, het hom Dinsdag as vermis aangemeld by die polisie nadat Serfontein nie by die huis opgedaag het nie. Albei sy voertuie was steeds daar, albei sy selfone was afgeskakel en al sy persoonlike besittings, buiten sy beursie, was ook nog by die huis.
“Ons het by nadere ondersoek Donderdag vasgestel hy het ʼn buskaartjie onder ʼn vals naam na Port Elizabeth bespreek. Beeldmateriaal by die Pretoria-stasie wys hy was om 14:30 daar om die bus te haal,” het Du Bruyn Vrydag aan Maroela Media gesê.
Met dié inligting het die ondersoekbeampte besluit om die saak te sluit. Ao. Dave Miller, woordvoerder van die Garsfontein-polisiestasie, het dit bevestig.
“Leon het nog gladnie met my of sy familie in verbinding getree nie, dus is hy vir ons nog vermis. Ons is steeds baie bekommerd oor hom en weet nie waarom hy nog nie met iemand kontak gemaak het nie. Dit was dalk ʼn impulsiewe besluit, maar ons smeek hom om net met iemand in verbinding te tree sodat ons weet hy is veilig.”
Du Bruyn het gesê noudat die saak gesluit is, is hul hande afgekap en hulle hoop Serfontein sal hulle kontak of die publiek sal hulle laat weet as iemand Serfontein gewaar.
“Ek en sy suster sal nie ophou soek totdat ons hom kry nie,” het hy gesê. Mense wat Serfontein sien, word versoek om Du Bruyn by 082 267 3013 te bel.