ʼn Dokter van Port Elizabeth is Donderdag in hegtenis geneem omdat ʼn vrou (38) beweer hy het haar tydens ʼn ondersoek onsedelik betas.
Kapt. Sandra Janse van Resnburg, polisiewoordvoerder, het gesê die 62-jarige dokter is deur lede van die eenheid vir gesinsgeweld en seksuele oortredings by sy praktyk in Rowallanpark in hegtenis geneem.
Die vrou het glo reeds in Julie verlede jaar die saak by die polisie aangemeld omdat sy gevoel het die dokter het onbehoorlik aan haar gevat tydens die ondersoek.
Die man sal Vrydag in Port Elizabeth-landdroshof verskyn.