Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Daspoort das Poort na “wit” woongebiede?

$
0
0

Betogers maak amok in die weste van Pretoria. Foto: Facebook

Betogers maak amok in die weste van Pretoria. Foto: Facebook

Daar is ’n groter simboliek as bloot die fisieke gebeure in gister se “inval” van arm betogers in Pretoria-Wes wat onder meer tot die sluiting van die Daspoorttonnel gelei het. Gegriefde mense wil gehoor word, en dit werk nie om vanuit hul agtergeblewe omstandighede te skree nie – hulle moet dit neem na waar dit wel gevoel en gehoor sal word. Nie net voormalige wit woonbuurte kan (maar sal waarskynlik weens ’n verskeidenheid redes nie) meer dikwels die teiken word nie, maar ook prestige-instellings soos universiteite.

Die nuus oor molesmakende betogers wat dele van westelike Pretoria ingeval het en die soort marankas aangevang het wat gewoonlik tot die ontevredenes se eie woongebiede beperk is, het gister veral deur die sosiale media vlerke gekry. Verskeie strate en die Daspoorttonnel moes vir verkeer gesluit word. “Hier kom ‘hulle’!”

Jare lank is bangmaakstories al versprei oor swart mense wat hul protes na wit, of dan voormalige wit, woongebiede sou “uitvoer” om die apatiese “ander” by die griewe in te sleep en op ’n manier betrokke te kry.

Die reaksie om skole, en volgens ’n mededeling op die sosiale media, ook Sol-Tech te sluit om mense te beveilig, was dus heel te verstane. Presies hoe gewelddadig sou die “inval” word? Al was die inwoners van Pretoria-Wes nie self die teiken nie, maar ’n regering en munisipale raad wat na hul mening uitblink met verbreekte beloftes en dan horende stokdoof word.

Die moles hét “gewerk”, en baie blootstelling is gekry. Maar daar is nog baie woongebiede binne “trefafstand” van “wit” woongebiede, sommige baie welgesteld. ’n Mens kan jou maar net indink wat sou gebeur as woedende betogers uit een van die informele gebiede om Alexandra na Sandton opruk en buitebande op straat aan die brand steek, vullis mors en mense intimideer.

Maar “wit” woongebiede het al oor die jare die toevlug geword van meer welvarende swart mense, waarvan baie deel van die ANC-elite is. Volgens ’n skrywe van Raymond Louw van die Vryemarkstigting word die omvang van transformasie wat reeds plaasgevind het, onderskat. Onder meer is daar tans meer middelklas swart mense woonagtig in voormalige wit voorstede as wat die totale wit bevolking is. Swart kopers van vaste eiendom beloop tans 50% van alle vrywillige eiendomstransaksies.

Hulle het juis na hierdie gebiede geskuif om afstand tussen hulle en hul “stemvee”, en dié se omstandighede, te plaas. Betogers kan dus verwag daar gaan onmiddellik enorme politieke druk wees om die molesmakers op welke manier ook al te verwilder.

Vir die tradisionele inwoners van die voormalige wit woongebiede sal dit nogtans as skok kom as hul betreklik rustige omgewings nou ook deel van die land se ideëslagveld word. Selfs diegene wat in luukse veiligheidskomplekse woon, sal nie onaangeraak wees nie, want die ouers moet steeds by die werk kom, die kinders by die skool, en daar word kruideniersware benodig. En moenie verbaas wees as die betogers nog allerlei grondwetlike regte, gewaand of andersins, opeis om ook die veiligheidskomplekse te betree nie.

Maar eintlik is die tendens nie heeltemal nuut nie.

Die EFF hou vandag ’n optog na Tuks om te betoog teen “’n minderheid wat kulturele, maatskaplike en alle ander fasette van universiteitslewe daar steeds oorheers”. Gister is studente en dosente in die Neelsie op Maties se kampus deur betogers vasgekeer. Motoriste is gewaarsku  om wyd te hou om Unisa se hoofkampus omdat betogers amok gemaak het. Die Woordfees by die US was ook by geleentheid ontwrig.

Gegriefde mense wil hê hul griewe moet aangehoor word. Kovsies se studenteraadsvoorsitter en voorbok-betoger het dit byvoorbeeld duidelik gemaak hulle het die Varsitybekerwedstryd gaan ontwrig “om gehoor te word”. Die duidelik onontvanklike “gehoor” op die pawiljoene was ook nie die teiken nie, maar die miljoene mense wat via die media en sosiale media kennis sou neem van die optrede en gevolge.

Om in hul eie agtergeblewe woongebiede optogte te hou, trek eenvoudig nie soveel aandag nie, maak nie saak hoeveel geraas gemaak word, hoeveel bande verbrand word of hoeveel rommel gemors word nie. Maar neem nou net ’n fraksie van hierdie onluste na die N2-snelweg daarnaas op die Kaapse Vlakte, en daar is landwyd beroerings, en verkeersverslae op radio hou motoriste deurgaans op die hoogte.

Om in middestede te betoog en vullisdromme om te keer trek ook lank nie meer die nodige aandag nie, want diegene wie se aandag getrek moet word, kom lankal nie meer in middestede nie, veral nie daar waar ’n mate van verval begin intree het nie.

Oudpres. Thabo Mbeki het by geleentheid gesê Suid-Afrika is soos ’n huis met twee verdiepings. Op die een vlak woon die armes, en op die ander vlak die meer welgesteldes, en tussenin is daar geen trap nie.

Maar daar sál geluister word, al word die poorte daartoe oopgedwing. Gister skryf iemand op Facebook dat daar dié dag van alle oorde berigte oor onluste was. Maak nie saak in watter windrigting nie, daar is onrus.

In werklikheid is dit nie heeltemal ongewoon nie, maar dit was gister meer opvallend vir baie omdat die onluste ook die sogenaamde veilige ruimtes wat ons dikwels “gekoop” het, ook binnedring het.

Oor die oorsake en gevolge van armoede en die gevaar van relatiewe deprivasie, gestook deur leë politieke beloftes, is al baie geskryf. Dis ook nie eie aan Suid-Afrika nie, behalwe dat die regering hier moeite doen om die kwessie na ras te reduseer en sodoende self verantwoordelikheid probeer vryspring en die skuld verplaas.

Maar word die hele mededeling van Raymond Louw, soos vertaal, aangehaal uit Business Day Live, word ’n effe ander prentjie geskets: Die getal swart mense wat meer as R400 000 per jaar verdien, het van 2000 tot 2014 met 1 000% toegeneem vanaf 120 000 tot 1,2 miljoen, 90% van wie in die privaat sektor is. Die swart middelklas het in hierdie tyd met 333% gegroei vanaf 1,8 miljoen tot 6 miljoen.

Tussen 1996 en 2011 het die totale swart besteebare inkomste toegeneem met 370% vanaf R161 miljoen tot R756 miljoen, terwyl persoonlike inkomste met 300% gestyg het. Daar is tans meer middelklas swartes woonagtig in voormalige wit voorstede as wat die totale wit bevolking is. Swart kopers van vaste eiendom beloop tans 50% van alle vrywillige eiendomstransaksies. Die persentasie swart regters het vanaf 25% tot 62% met 248% tussen 2000 en 2012  gestyg. Die gemiddelde lewensverwagting van swart mense het vanaf  2006 tot 2011 vanaf 53 tot 60 jaar gestyg. Private skole is 72% swart en swartes beskik oor meer as die helfte van alle universiteitsgrade. Die getal swarte mense wat op minder as R30 per dag leef, het gedaal vanaf 16% tot 2,5% sedert 1996. Swart mense besit tans ongeveer 50% van alles wat besit word in Suid-Afrika – aandele, nuwe firmas, lidmaatskap van mediese fondse, versekeringspolisse, motoraankope, kredietkaarte, en so meer. (Erkenning aan Ditsem vir die vertaling.)

Met al die huidige veldtogte teen rassisme is dit eintlik ’n goeie tyd om in beginsel die raskwessie in die armoedevraagstuk te vergeet, en holisties te kyk hoe armoede onder alle rasse ten beste aangespreek kan word sonder om diegene met produksiemiddele en produksie-insigte af te trek bloot oor velkleur.

Ten slotte. Vreedsame betogings en stakings is grondwetlike regte. Dit ontaard egter dikwels omdat dit dan nie “raakgesien” word nie en van vergeet word. Dan word dit gewelddadige propaganda, en die vuurhoutjie kom na-aan die kruitvat – soos Marikana. En nog ’n Marikana of soortgelyk gaan nie help om te keer dat Suid-Afrika rommelstatus afweer nie. En dan het almal verloor.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!