Die vakbond Solidariteit het Woensdag gesê die uitkoms van sy hofsaak teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oor sy huidige regstellende-aksieplan raak duisende poste in die polisie.
Solidariteit vra onder meer in ʼn dringende hofaansoek dat meer as 5 000 poste, wat in Februarie vanjaar geadverteer is, nie ingevolge die doelwitte van die polisie se huidige regstellende-aksieplan gevul moet word nie.
In sy jongste hofaansoek vra Solidariteit ook die SAPD se huidige regstellendeaksieplan (vir die tydperk 2015-2019) moet ongeldig verklaar word. Solidariteit meen dié plan kom, soos die polisie se vorige regstellende-aksieplan wat reeds ongeldig verklaar is, op ʼn kwotastelsel neer. Die aansoek sal op 17 Maart deur die arbeidshof in Johannesburg aangehoor word.
Johan Kruger, adjunkhoof van Solidariteit, het verduidelik die SAPD het teen die arbeidshofuitspraak van Januarie vanjaar, waarin die polisie se regstellende-aksieplan van 2010-2014 ongeldig en ongrondwetlik verklaar is, geappelleer. Dié uitspraak maak dit vir Solidariteit moontlik om sy lede met regsaksie by te staan indien hulle gedurende die onlangse rondte bevorderings aan die begin van 2016 weens die rassekwotas in die ongeldige plan nie bevorder is nie.
“Ons hofaansoek teen die polisie het ʼn tweeledige doel. Eerstens wil ons verhoed dat die SAPD enige bevorderings en aanstellings op grond van ras of geslag maak voordat die appèlproses teen die vorige plan afgehandel is. Tweedens vra ons die SAPD se huidige regstellendeaksieplan vir die tydperk van 2015 tot 2019 moet ook ongeldig verklaar word en dat geen aanstellings en bevorderings ingevolge dié plan moet plaasvind totdat die hofsaak afgehandel is nie,” het Kruger gesê.
Kruger het gesê Solidariteit wil deur middel van sy hofaksie verhoed dat onbillik teen enigiemand in die SAPD gediskrimineer word. “Die SAPD se regstellende-aksieplanne sal, indien dit toegepas word, op onbillike diskriminasie neerkom. Ons meen die planne is net ʼn rookskerm vir die polisie om kwotas volgens die nasionale rassedemografie toe te pas. Sodoende word ervaring misken en dienslewering trek aan die kortste ent,” het Kruger gesê.