
Argieffoto
Die 22-jarige man wat in hegtenis geneem is nadat hy glo ʼn 12-jarige meisie verkrag en daarna middels toegedien het, glo sodat sy nie swanger moet raak nie, het Maandag in die hof verskyn.
Volgens maj. Pelonomi Makau, polisiewoordvoerder van Noordwes, het die man, wat op ʼn plaas in die Lichtenburg-omgewing werk, in die dorp se landdroshof verskyn op aanklag van verkragting van ʼn minderjarige.
“Die saak is tot 24 Augustus uitgestel wanneer die verdagte na verwagting om borgtog gaan aansoek doen. Hy bly in aanhouding tot dan,” het sy gesê.
Maroela Media het vroeër berig die meisie is Donderdag verkrag en met ʼn middel ingespuit. “Hy het haar daarna ook pille laat drink wat vir beeste bedoel is om te verhoed dat hulle dragtig raak,” het Makau toe gesê.
Die meisie het die voorval aangemeld en die verdagte is opgespoor en in hegtenis geneem. Sy is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.