‘n Volledige onderhoud en video volg onderaan die berig.

Argieffoto
Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, het gesê die wêreld se finansiële markte en ekonomieë is op ʼn baie onstabiele plek in dié stadium. “Daar is baie probleme in Europa, Amerika en ook in China.”
Volgens Roodt is die wêreldekonomie omvergegooi deur China se aandelebeurs wat so ’n paar weke gelede onder druk begin kom het en die land wat later sy geldeenheid gedevalueer het. “Chinese markte het skerp begin daal, so ook Amerikaanse markte en die wisselkoerse, en die Suid-Afrikaanse rand het daarop gereageer.”
Roodt het gesê die Suid-Afrikaanse ekonomie is ook nie die “gesondste ekonomie” in dié stadium nie. “Ons is in ʼn situasie waar die senuwees internasionaal maar baie rou is en niemand wil risiko’s waag nie. Almal hardloop na ʼn plek waar hulle veilig voel en Suid-Afrika is seker nie een van daardie plekke waar hulle veilig voel nie.”
Op ʼn vraag aan Roodt oor die invloed van die rand se wisselvalligheid op Jan Alleman se sak, het hy gesê daar is twee kanale met ʼn invloed op die Suid-Afrikaanse ekonomie. “Die eerste het te doen met die reële ekonomie. Dit is die plek waar ek en jy werk, asook fabrieke bedryf en handel gedryf word. In Suid-Afrika gaan ons minder uitvoer en sake doen, met ander woorde die man op straat se werksgeleenthede en salarisverhoging gaan waarskynlik nou so ietwat gekortwiek word as gevolg van die onlangse verwikkelinge. Die ander kanaal is die finansiële markte. Die rand het sterk gesak wat beteken ingevoerde produkte soos olie gaan begin styg in waarde of prys, die inflasiekoers gaan styg en die Reserwebank gaan later rentekoerse moet verhoog.”
Roodt het gesê as die rand verswak, beteken dit eenvoudig dat Suid-Afrikaners armer word. “Alles gaan nou duurder word, want alles word volgens internasionale terme geprys. Die vooruitsigte vir ekonomiese groei en werkskepping is nou swakker weens die onlangse krisis wat ons ervaar het.”
Volgens Roodt is daar nie veel wat die individu aan die situasie kan doen nie, maar ʼn behoorlike finansiële plan kan wel as buffer optree. “Wat vir my eintlik die hartseerste is, is dat individue altyd wag vir die een of ander krisis en dan vra: Wat moet ek nou doen? En dan eers begin hulle die regte dinge doen soos om te begin begroot, spaar vir aftrede en allerhande wonderlike en goeie planne maak. Maar wanneer die goeie tye weer terugkeer, dan waai die goeie planne by die venster uit en ons vergeet daarvan.”
Roodt het gesê indien iemand reeds ʼn goeie finansiële plan gereed het, hoef daar nie veel aanpassings in uitdagende tye gemaak te word nie aangesien die plan reeds voorsiening maak vir onvoorsiene uitgawes. “Die beste is om ʼn behoorlike finansiële plan te kry wat ʼn begroting en aftreebeplanning insluit.”
Roodt is nie baie optimisties oor die Suid-Afrikaanse ekonomie se vooruitsig nie. “Wat ons die afgelope tyd gesien het, was besonder wisselvallige finansiële markte en in ʼn erger scenario is daar ongetwyfeld die moontlikheid dat die wêreldekonomie ʼn resessie kan ingaan. Dit is ʼn erge scenario, maar ek dink nie ons is al daar nie. Indien dit gebeur, kan die Suid-Afrikaanse ekonomie ook ʼn resessie ingaan met al die nare gevolge daaraan verbonde. Ek dink ook nie ons is al daar nie. Die waarskynlike scenario gaan wees dat die wêreldekonomie stadiger gaan groei en dat wisselvalligheid en onsekerheid ʼn tyd lank met ons gaan wees.”
Die volledige onderhoud met Dawie Roodt:
Die onderstaande insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.