ʼn Aanklag van poging tot moord is teen ʼn voormalige Springbok-rugbyspeler aanhangig gemaak, nadat hy na bewering ʼn man op sy plaas met ʼn vierwielmotorfiets raakgery het.
Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn aanklag van poging tot moord word ondersoek. Hy het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie en daarom kan die man se naam nie bekendgemaak word nie.
Alvina Abrahams, adjunk-president van Icosa, het aan Maroela Media gesê sy was op die voormalige sportman se wynplaas naby Wellington kort nadat die voorval plaasgevind het.
Volgens Abrahams het Johannes Bitterhout (40) voorheen op die man se plaas gewerk, maar hy is drie jaar gelede afgedank. Bitterhout het egter steeds op die man se plaas gewoon saam met ander werkers en voormalige werkers.
“Johannes het Saterdag omstreeks 14:20 buite sy huis gestaan toe [die man] op sy vierwielmotorfiets verby gery het. Die volgende oomblik het hy op Johannes afgepeil en geskree, ‘Ek soek julle van my plaas af!’.” Abrahams sê die man het Bitterhout raakgery en daarna agteruit gery en probeer om weer oor hom te ry. Bitterhout kon egter betyds uit die pad rol.
Die polisie is ontbied en hulle het gereël dat ʼn ambulans Bitterhout kom haal, het Abrahams gesê. “Toe los die polisie die saak net daar! Hulle het nie eens ʼn dossier oopgemaak nie. Ek moes later na die polisiestasie toe gaan en eis dat hulle ʼn saak oopmaak,” het sy gesê. “Die polisie het daarna eers ʼn verklaring by Johannes in die hospitaal gaan afneem en toe teruggekom en vir ons gesê ʼn saak van poging tot moord word ondersoek.”
Volgens Abrahams is Bitterhout Sondag ontslaan, maar hy ervaar steeds erge pyn en sukkel om te loop. “Hy het ʼn armbesering en inwendige borsbeserings opgedoen,” het sy gesê. “Ek wil net hê geregtigheid moet geskied. Geregtigheid is nooit daar vir die arm man nie, maar altyd daar vir die ryk man. Dit is nie aanvaarbaar nie,” het sy gesê. “Ek het niks teen [die man] persoonlik nie, maar dit is nie reg dat plaaswerkers so behandel word nie. Ons eis dat hierdie saak deeglik ondersoek en verder gevat word.”
ʼn Werknemer by die wynlandgoed het aan Maroela Media gesê die man is nie beskikbaar vir kommentaar nie.