Die liggaam van ʼn man, glo in sy vroeë 30’s, is Maandagoggend by ʼn Pretoriase laerskool gevind.
Klaas van der Kooi, eienaar van Kilnerpark Security in Pretoria se Moot-omgewing, het aan Maroela Media gesê twee inbrekers het vermoedelik Sondagaand ʼn paar huise vanaf die Laerskool Wonderboom-Suid probeer inbreek.
“Lede van die gemeenskap het die verdagtes agternagesit en een van hulle het na bewering oor die skool se heining gespring om weg te kom,” het Van der Kooi gesê.
Die verdagte is deur terreinwerkers wat by die skool bly, betrap en aangekeer. Kilnerpark Security is kort daarna ontbied.
“Ons het drie voertuie na toneel ontplooi. Die polisie is in kennis gestel, maar het lank gevat om op te daag. Aangesien die toneel veilig en onder beheer was, het die beamptes gery en die verdagte lewend agtergelaat.”
Van der Kooi het gesê hulle is vanoggend ingelig ʼn liggaam, vermoedelik dié van die vermeende inbreker, is by die skool gekry.
Ao. Hero Gumbu, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie is omstreeks 06:00 in kennis gestel ʼn liggaam van iemand wat vermoedelik aangerand is, is by die skool gevind.
“Die Pretoria-Moot-polisie ondersoek ʼn saak van moord. Die veiligheidswagte en die betrokke terreinwerkers word ondervra,” het Gumbu gesê. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Van der Kooi het gesê hulle gee hul volle samewerking aan die polisie met hul ondersoek.
Maroela Media het die Gautengse departement van onderwys genader vir kommentaar en wag nog vir terugvoer.