Die vergoeding kom nadat meer as 4 000 mynwerkers, wat longsiektes by goudmyne opgedoen het, die mynmaatskappye in 2012 in ʼn sogenaamde klasaksie-regsgeding gedagvaar het. Van die werkers is intussen oorlede.Jabu Mahlangu, woordvoerder van Sanco, het gesê die skikking is ʼn geskiedkundige oorwinning vir menseregte en arbeiders wat onder verskeie longsiektes gebuk moet gaan om die Suid-Afrikaanse mynboubedryf winsgewend te maak.
Hy het bygevoeg dat die suksesvolle eis die weg baan vir nog skikkings deur silikose-lyers wat in diens van Anglo Suid-Afrika is.
“Dringende ingryping is nodig om skikkings te versnel van uitstaande eise deur duisende mynwerkers wat silikose opgedoen het nadat hulle die onsigbare en hoogs toksiese silika-stof gedurende skietwerk en boorbedrywighede ingeasem het,” het hy gesê.
“Myne moet verantwoordelikheid neem dat hulle mynwerkers toegelaat het om aan te hou werk vir 15 jaar nadat hulle met silikose gediagnoseer is. Baie meer moet ook gedoen word om huidige mynwerkers te beskerm teen werkverwante siektes in die bedryf.”