ʼn Plaaswerker is dood nadat hy Vrydag op ʼn plaas naby Bapsfontein in Gauteng onder ʼn grassnyer beland het.
Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die werker was omstreeks 12:50 besig om met ʼn trekker en grassnyer gras te sny toe hy deur ʼn swerm bye aangeval is.
“Hy het van die trekker afgespring en probeer weghardloop. Die trekker het ʼn implement wat die gras sny gesleep en die man het gestruikel en onder dié implement beland,” het Mathe gesê.
Paramedici is na die toneel geroep, maar die man was reeds dood. Die naam van die oorledene kon nog nie bekendgemaak word nie.