Die Rasikhuthuma Secondary School is heeltemal afgebrand toe die betoging, wat al sedert die oggend aan die gang was, gewelddadig geraak het. Betogers het die paaie na die nedersetting met klippe afgesper en deur die strate geloop en betoog.
ʼn Beampte van die skool wat nie sy naam genoem wou hê nie, het bevestig dat die skool met al sy rekords afgebrand het. Drie mobiele klaskamers buite die skoolgebou is ook vernietig.
Thomas Munyai, die eienaar van ʼn snoepwinkel in die nedersetting, het gesê hy het sy winkel gesluit toe hy sien dat die betoging gewelddadig raak, maar iemand het hom later die aand gebel om te sê die winkel is heeltemal afgebrand en sy voorraad is geplunder. “Die betogers het my daarvan beskuldig dat ek die besluit om by die nuwe munisipaliteit ingesluit te word, ondersteun,” het hy gesê.
Maroela Media het Vrydag berig dat die polisie rubberkoeëls moes afvuur om die betogers onder bedwang te kry. Die inwoners is ongelukkig omdat die nedersetting voortaan by die nuwe Malamulele-munisipaliteit ingesluit sal word. Hulle voel dat dit tot ʼn verswakking in openbare dienste sal lei.
Intussen het verkiesingstasies van die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) Saterdag te midde van die betoging gesluit gebly. Daar was deurentyd ʼn sterk polisieteenwoordigheid in die gebied en sprake dat adjunk-pres. Cyril Ramaphosa Saterdag met die betogers sou vergader.
Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie.