Lucky Strauss Madiba (20) en Sipho Mpho Mohlala (19) staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord, onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, die besit van gesteelde selfone, moord met verswarende omstandighede, ontvoering en verskeie aanklagte van motordiefstal.
Maroela Media het vroeër berig drie verdagtes en Lekalakala is Woensdag in die vroeë oggendure in die skietgeveg dood. Polisiebeamptes het tydens roetinepatrollie ʼn verdagte motor op die snelweg opgemerk en van die pad af getrek. Toe die beamptes naderstap, het die vyf insittendes skielik op hulle losgebrand en die polisie het teruggeskiet.
Landdros Maryke de la Rey het die saak tot 11 Maart uitgestel vir formele borgtogaansoek. Barbara Ndela, die staatsaanklaer, het aangedui dat die staat borgtog sal teenstaan.
Naughty Magoai, Gautengse adjunk-hoof van die polisievakbond Popcru, het gesê die vakbond hou by sy siening dat die polisie moet terugskiet wanneer daar op hulle geskiet word. “Ons sal nie toelaat dat ons lede deur misdadigers aangeval word nie. Ons lede moet hulself met die vuurwapens wat hulle dra beskerm en ons doen ʼn beroep op die regstelsel om ons by te staan en nie borgtog aan die twee beskuldigdes toe te staan nie,” het Magoai gesê.