ʼn Geleentheid op die eerste dag van die Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees is Vrydagaand deur betogers ontwrig toe hulle by ʼn boekbekendstelling op die verhoog gehardloop en begin sing en dans het.
Die voorval het by die bekendstelling van Marlise Scheepers se boek Sjef Snoekie laat die potte sing in die De Vette Mossel-lokaal plaasgevind. Die betogers, wat almal vroue was, het plakkate om hul nekke gedra. Sommige was kaalbors en het hul monde met kleefband toegeplak.
Saartjie Botha, direkteur van die Woordfees, het die voorval bevestig. “Die betogers het die geleentheid probeer oorneem deur te sing en dans, maar het tien minute later die terrein van De Vette Mossel verlaat en in die rigting van die administrasie-gebou beweeg,” het sy gesê.
Volgens Botha het die betogers beweer dat hul betoging in protes was teen AfriForum-lede “wat hulle met verkragting gedreig het”. Hierdie bewerings verwys na ʼn voorval Donderdag op die US-kampus toe daar glo ʼn woordewisseling tussen lede van AfriForum en lede van Open Stellenbosch plaasgevind het.
Marcus Pawson, woordvoerder van AfriForum-Jeug, het aan Maroela Media gesê die bewerings deur die betogers is verregaande en van alle waarheid ontbloot. “Valse bewerings oor verkragting ontken die ware realiteit en trauma van verkragting en om ʼn ernstige misdryf te omskep in ʼn publisiteitsirkus, is ʼn belediging teenoor alle vroue regoor die land wat al werklik daardeur geraak is,” het hy gesê.
Hy het verduidelik dat lede van die EFF en Open Stellenbosch Donderdag ʼn georganiseerde betoging op die US-kampus gehou het op dieselfde tyd wat lede van AfriForum Jeug ʼn herdenkingsaksie by die by die JH Marais-standbeeld gehou het.
Volgens Pawson het van die lede van Open Stellenbosch later van die groep af weggebreek en na die standbeeld toe beweeg. Hulle het glo op die standbeeld geklim, dit met modder besmeer en EFF-verkiesingsplakkate daarop geplak. ʼn Woordewisseling het daarna ontstaan tussen die betogers en lede van AfriForum Jeug wat probeer het om die standbeeld te beskerm.
“Mnr. Johan Pienaar, wat volgens inligting deel is van Open Stellenbosch, en nog een van die leiers van dié groep, het AfriForum Jeug en Afrikaanse studente uitgetart, rassistiese aanmerkings gemaak en hulle rondgestamp,” het Pawson gesê. AfriForum het later die dag ’n klag van aanranding en aanhitsing tot geweld teen Pienaar en die ander leier van die Open Stellenbosch-groep aanhangig gemaak.
Pawson het gesê ’n klag van haatspraak sal ook by die Mensregtekommissie ingedien word nadat Open Stellenbsoch glo “Dubul’ ibhunu” (Skiet die boer) en “Umshini wami” (Bring my masjiengeweer) gesing het.
“Dit is duidelik dat die US-bestuur nie beheer het oor groepe soos die EFF en Open Stellenbosch wat ander studente ontneem van hulle reg om in vrede op die kampus te verkeer nie,” het hy gesê. “AfriForum verag die walglike daad van verkragting en sal alle vroue ondersteun wat daardeur geraak word. Sulke verregaande en valse bewerings moet nooit gebruik word vir politieke gewin nie.”



