Lulama Cabela, ʼn geregistreerde verpleegster, en Babalwa Cabela, haar ontvangsdame, staan elkeen tereg op 25 aanklagte van verberging van geboortes. Die hof het R5 000 borgtog elk aan die twee vroue toegestaan.
Gedurende Vrydag se hofverrigtinge is die ondersoekbeampte se verklaring aan die hof voorgelees waarin hy vertel hoe hy ʼn lasbrief gekry het om ʼn kliniek in Port Elizabeth-sentraal te deursoek. Daar het hy die bevrore fetusse in die vrieskas ontdek.
“Ek het in die kantoor ingegaan en die kisvrieskas wat tot bo met rooi sakke gevul was, oopgemaak. Ek het die rooi sakke oopgemaak en die gevriesde fetusse gesien. Ek het ook beslag gelê op medisyne, toerusting en dokumentasie wat gebruik word om aborsies mee uit te voer,” het sy verklaring gelees.
Die klagstaat het aangedui dat Lulama as verpleegster by die kliniek aangestel was. Die staat beweer dat sy die kliniek se fasiliteite en haar huis gebruik het om aborsies uit te voer op vroue wat al meer as 13 weke swanger was.
Die staat het nie Vrydag borgtog teengestaan nie en gesê die oortredings word as ʼn skedule 1 oortreding gesien. Die vroue se borgtogvoorwaardes sluit in 24 uur huisarres en dat hulle twee keer per week by die Humewood-polisiestasie moet aanmeld.