Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê lede van die polisie se eenheid vir openbare orde moes ingeroep word om die situasie in bedwang te bring. Polisiebeamptes moes in ʼn stadium rubberkoeëls gebruik om betogers uitmekaar te jaag.
Teen die middag het die betoging uitgebrei en betogers het die pad tussen Elim en Malamulele met klippe afgesper, het Otto gesê. “Mense bestook steeds die polisie met klippe. Motoriste word aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak,” het sy gesê.
Die betogers is glo ongelukkig omdat hulle voortaan by die nuwe Malamulele-munisipaliteit ingesluit sal word. Hulle voel dat dit tot ʼn verswakking in openbare dienste sal lei. Die inwoners betoog al sedert 2015 oor hul insluiting by die munisipaliteit en eis dat hulle by die Makhado-munisipaliteit ingesluit word.
Intussen het betogers in Mahwelereng naby Mokopane ook Vrydagoggend die N11 met reusewatertenks afgesper. Volgens Otto is hulle ongelukkig oor die tekort aan water in die nedersetting. Motoriste is aangeraai om die gebied te vermy.

