Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê die 63-jarige man is glo deur drie rowers in ʼn wit Toyota Yaris gevolg nadat hy by ʼn bank uitgestap het. Die rowers het die man in Productstraat oorval en in die bolyf geskiet.
“Terwyl die rowers op die vlug geslaan het, het hulle ook ʼn 60-jarige veiligheidswag geskiet wat die man te hulp probeer snel het. Hulle het daarna met ʼn onbekende bedrag kontant van die toneel af weggejaag,” het Van Wyk gesê.
Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die man wat beroof is, is op die toneel behandel en daarna in ʼn kritieke toestand na die Groote Schuur-hospitaal vervoer. Dit is nie duidelik wat die toestand van die veiligheidswag is nie.
Van Wyk het gesê twee sake van poging tot moord en ʼn saak van gewapende roof word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.