Clik here to view.

Stone Sizani. Foto: Facebook
Moloto Mothapo, kommunikasiehoof van die ANC, het gesê Sizani is “herontplooi” uit die parlement in ʼn “nuwe verantwoordelikheid” wat later aangekondig sal word. Die besluit is Woensdagmiddag tydens ʼn ANC-koukusvergadering aangekondig.
“Weens die dringendheid wat die nuwe verantwoordelikheid vereis, het comrade Sizani met onmiddellike effek bedank. Die ANC se adjunk-hoofsweep, comrade Doris Dlakude, sal tydelik as die hoofsweep waarneem,” het Mothapo gesê.
Sizani is glo herontplooi om Suid-Afrika as ambassadeur in Duitsland te verteenwoordig. Mothapo kon dit nie onmiddellik bevestig nie. Hy het wel gesê dat Sizani steeds as lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) sal dien.
Volgens ʼn verklaring wat oomblikke gelede deur die ANC uitgereik is, sal die party se nasionale uitvoerende komitee besluit oor Sizani se plaasvervanger tydens sy volgende sitting oor ʼn paar weke. Die verklaring het gesê Sizani is tydens Woensdag se vergadering gelukgewens met sy uitstekende leierskap van die party in die parlement en Dlakude is sterkte toegewens vir haar nuwe verantwoordelikheid.
Sizani se bedanking kom twee weke nadat die verhoor teen sy vrou, Portia “Pankie” Sizani, in die handelsmisdaadhof in Port Elizabeth afgesluit is. Portia staan tereg op 16 aanklagte van bedrog en 10 aanklagte van geldwassery. Die saak sal op 26 Julie hervat wanneer daar na verwagting uitspraak gelewer sal word.
Volgens die ANC se webtuiste was Sizani sedert 2009 ʼn lid van die NUK. Hy is in Junie 2013 as hoofsweep aangestel.
Sizani was van 1978 tot 1990 op Robbeneiland as ʼn politieke gevangene aangehou en het in 1994 ʼn MA-graad in ontwikkelingstudies aan die universiteit van East Anglia in Brittanje behaal.