ʼn Vermeende grypdief is Maandag in Bishop Lavis naby Kaapstad doodgeskiet toe hy glo ʼn motor se venster by ʼn kruising gebreek het.
Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 15:00 op die hoek van Jakes Gerwel- en Bluegum-straat gebeur. Die 16-jarige grypdief het glo ʼn motoris se venster gebreek en iets uit die motor probeer gryp voordat sy hom geskiet het.
Van Wyk het gesê ʼn saak van moord en roof word ondersoek. Hy het egter bevestig dat daar in hierdie stadium nie enige aanklagte teen die motoris aanhangig gemaak is nie en dat die polisie nog besig is met hul ondersoek.
Van Wyk wou nie mediaberigte dat die vrou self ná die voorval na ʼn polisiestasie gery en die saak aangemeld het of dat sy traumaberading moes ontvang, bevestig nie. “Hierdie is al inligting wat ons in hierdie stadium bereid is om bekend te maak,” het hy gesê.