Drie verdagtes en ʼn polisiebeampte is Woensdag in die vroeë oggendure op die N4-snelweg, oos van Pretoria, in ʼn skietgeveg dood.
Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 01:45 naby die Diamond Hill-tolhek, net ná die Rayton/Cullinan-afrit, plaasgevind.
“Beamptes van die Silverton-blitspatrollie het tydens roetinepatrollie ʼn verdagte motor op die snelweg opgemerk en van die pad af getrek,” het Mulaudzi gesê. “Toe die beamptes naderstap, het die vyf insittendes skielik op hulle losgebrand en een van die beamptes, konst. Max Lekalakala (32), doodgeskiet.”
Die polisie het teruggeskiet en twee verdagtes noodlottig gewond. Een verdagte is gewond en is by die hospitaal dood verklaar. Nog ʼn verdagte is kritiek gewond en onder polisiebewaking in ʼn hospitaal.
Die vyfde verdagte kon daarin slaag om te ontsnap en is later deur die honde-eenheid in die veld opgespoor en in hegtenis geneem. Hy sal Vrydag in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Die polisie het beslag gelê op drie ongelisensieerde vuurwapens met ammunisie, sewe selfone en ʼn tabletrekenaar.
Die Valke lei die ondersoek.