Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê die meisie is Sondag deur haar ma by die Paarl-Oos polisiestasie as vermis aangemeld. “Die kind se familie en lede van die polisie het die hele dag na haar gesoek, maar kon haar nie opspoor nie,” het Van Wyk gesê.
“Teen Maandagaand het een van die familielede ʼn reuk in die huis waargeneem en ondersoek gaan instel. Sy het onder een van die beddens iets gekry wat in ʼn kombers toegedraai was. Sy het die polisie ontbied en hulle het die meisie se liggaam toegedraai in die kombers gevind,” het hy gesê.
Van Wyk kon nie bevestig of die meisie in die huis gebly het waar haar liggaam gevind is nie. “Daar is twee huise op die erf en die familie bly saam daar,” het hy gesê. “Dit is nie duidelik of die liggaam in die huis gevind is waar die kind gewoon het nie.”
Hy het gesê ʼn 23-jarige verdagte is deur die polisie ingeneem vir ondervraging. ʼn Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van die kind se dood bepaal.