Mediaberigte het die slagoffer oorspronklik geïdentifiseer as Andries Nel, adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake. Dit het egter intussen aan due lig gekom dat dit Obed Bapela, die departement se ander adjunkminister, is wat in die ongeluk betrokke was.
Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê daar was talle polisiebeamptes op die toneel met paramedici se aankoms. “Volgens inligting het die blouligbrigade op die N12 gery toe ʼn vragmotor glo in hul baan beland het. Die bestuurder van die sportnutsvoertuig [waarin die minister was] het uitgeswaai om die vragmotor te probeer vermy. Die vragmotor het die voertuig steeds getref waarna die voertuig in die veld langs die pad beland het.”
Volgens Vermaak is een van die voertuig se agterdeure weens die trefkrag van die botsing afgeruk. Bapela én sy bestuurder het glo veiligheidsgordels aangehad. “Volgens paramedici op die toneel het dit moontlik daartoe gelei dat niemand uit die voertuig geslinger is nie.”
Bapela en sy bestuurder is op die toneel behandel voordat hulle na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer is vir verdere behandeling. Volgens Vermaak is die bestuurder van die vragmotor op die toneel ondervra. Die presiese oorsaak van die ongeluk word ondersoek.