MaroelaNatasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het gesê Haggard en Marais is Donderdag in die hooggeregshof in Ramsgate, KwaZulu-Natal, tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Die twee het aanvanklik onskuldig gepleit in verband met die moord op Mahabeer in Julie verlede jaar in Marburg buite Port Shepstone. “Hulle het egter nadat hulle skuldig bevind is, gesê hulle wil hul weergawe van die gebeure weergee. Volgens hul weergawe het Haggard aan Marais gesê hy wil graag sien hoe iemand doodgaan,” het Ramkisson-Kara gesê.
“Marais het voorgestel dat dit Mahabeer moet wees aangesien hy ʼn vendetta teen hom gevoer het. Hulle is na sy huis en het hom vermoor.” Marais en Haggard het aan die hof gesê hulle maak die inligting bekend aangesien hulle wil hê Mahabeer se gesin moet “afsluiting kry”.
Maroela Media het vroeër berig Haggard en Marais het ná die moord talle items uit Mahabeer se huis gesteel, waaronder ʼn selfoon, ʼn videokamera, kringtelevisiekameras en ʼn televisiestel. Hulle het in Mahabeer se motor gevlug en sy liggaam in die Umkomaas-omgewing afgelaai, sowat 80 km van Marburg.
Haggard en Marais is albei tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die aanklag van moord en 10 jaar tronkstraf elk vir roof.