Connie Prinsloo, sektorkoördineerder van die vakbond Solidariteit, het Vrydag aan Maroela Media gesê volgens inligting wat hy ontvang het, het Aucamp die oggend 05:00 by die werk ingeklok.
“Sy kollegas het deur die dag agtergekom hy is weg en het na hom begin soek. Daar is ʼn spesifieke hoogte langs die oopgroefmyn wat Aucamp glo gereeld besoek het om mynbedrywighede dop te hou. Sy bakkie is naby dié plek gevind en sy liggaam is omstreeks 13:00 opgespoor.”
Die aanvanklike ondersoek dui daarop dat hy op die wal gegly en toe sowat 100 m ver na sy dood geval het. Reddingswerkers het tussen 19:00 en 20:00 by sy liggaam uitgekom en dit na die oppervlak gebring.
“Die myngroep se veiligheidskomitee, departement van arbeid en polisie ondersoek die voorval,” het Prinsloo gesê.
Volgens Adele Rossouw, Solidariteit se organiseerder in Kathu, wat nou saam met Aucamp gewerk het, is Aucamp se dood ʼn groot skok vir die klein gemeenskap omdat hy baie geliefd was onder die werkers.
Lt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoeder, het aan Maroela Media bevestig die liggaam van ‘n 39-jarige man is by die myn gevind en ʼn geregtelike doodsondersoek sal gedoen word.
Afleggings het aan die einde van Januarie by Kuma Iron Ore se Sishen-myn, aan wie die Tau-myn uitkontrakteer, begin weens die lae ysterertsprys. Nagenoeg 2 633 van Sishen se 5 830 werknemers word hierdeur geraak. Nog 1 300 uit sowat 3 000 kontrakwerkers se poste is in gedrang.
Solidariteit het op 27 Januarie bekend gemaak drie mynmaatskappye, wat almal in Kathu gevestig is, het aangekondig hulle doen aansoek om herstrukturering. Sowat 175 werkers by Tau word hierdeur geraak. Aucamp het nie onder dié werkers getel nie.
Volgens Deon Reyneke, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris vir die energiebedryf, is die vakbond bekommerd oor die vlaag afleggings wat die Noord-Kaap getref het. “Die Noord-Kaapse myne verkeer onder geweldige druk en hierdie myne is nie die enigste wat moontlike afleggings moet hanteer nie,” het Reyneke destyds gesê.
“Die afleggings gaan ’n geweldige impak op die sosio-ekonomiese welstand van die werknemers in die Noord-Kaap hê. Gevolglik sal Solidariteit alles in sy vermoë doen om die werkers met raad en daad by te staan,” het Reyneke gesê.
Medianavrae oor Aucamp se dood is na Anglo American, ’n sake-eenheid van Kumba Iron Ore, verwys en Maroela Media wag nog vir terugvoer.
Aucamp laat sy vrou en twee kinders agter.