Willa de Ruyter, woordvoerder van die universiteit, het gesê die besluit is Donderdag geneem na ʼn vergadering tussen die TUT-bestuur en studenteleiers om ʼn memorandum te bespreek wat aan die universiteit oorhandig is.
Bedrywighede op die kampusse is opgeskort nadat geweld Dinsdag en Woensdag uitgebreek het onder die vaandel van die #FeesMustFall-veldtog. ʼn Groep studente bestaande uit lede van onder meer die Pan Africanist Student Movement of Azania (Pasma), die IVP se studentebeweging (Sadesmo) en die EFF se studentekommando, het Dinsdagoggend begin om aktiwiteite op die kampus te ontwrig.
“Dit is noodsaaklik dat aktiwiteite op die kampusse so spoedig moontlik hervat en daarom sal die Soshanguve-kampusse vanaf Maandag weer aan die gang wees,” het Ruyter gesê. “Die sperdatum vir registrasies by hierdie kampusse sal tot Vrydag, 4 Maart verleng word om op te maak vir die tyd wat verlore gegaan het weens die opskorting van bedrywighede. Die verlenging is slegs van toepassing op die Soshanguve Noord en Suid-kampusse.”
Volgens Ruyter is eksamens wat Vrydag geskryf sou word, uitgestel tot volgende Woensdag. Lesings vir BTech-studente wat vir Saterdag geskeduleer is, sal steeds voortgaan.
“Die direkteurs van inkomste en finansiële bystand sal vanaf Maandag op die Soshanguve Suid-kampus beskikbaar wees om studente te help om finansiële kwessies wat hulle ondervind, op te los,” het sy gesê. “Bykomende personeel sal ook rondom die kampus ontplooi word om studente wat geblok is maar steeds vir die 2016 akademiese jaar moet registreer, by te staan.”
In ʼn poging om die registrasieproses te bespoedig, sal personeel van die finansies-afdeling en kantoor vir finansiële bystand aanstaande week heelweek by die Studentesentrum beskikbaar wees.